Kom ons skaf lockdowns af en keer dat dit terugkom– Sakeliga skenk R50 000

pexels-josie-stephens-23008

Die wêreld – en Suid-Afrika – stuur af op ‘n tweede golf van lockdowns en ‘n sogenaamde “nuwe normaal”. Dit is nie iets wat ons kan aanvaar nie. Ek skryf dus hierdie brief omdat ek dink ons moet die mense wat daarteen opstaan, help.

Hierdie land kan nie nog lockdowns bekostig nie. Nie eens dit wat nog van krag is nie, soos internasionale reisbeperkings en die ewige swaard van regulasiewysigings op kort kennisgewing wat oor ons koppe hang nie. Ons grootste risiko in Suid-Afrika is immers die politieke en maatskaplike onstabiliteit en die dalende lewensverwagting en lewensgehalte wat volg op die tipe ekonomiese inkrimping wat ons nou ervaar.

Besighede wat saamstaan teen lockdown

Daarom is Sakeliga deel van Business for Ending Lockdown – ‘n groep sakeorganisasies in samewerking met top ekonome soos Dawie Roodt en Mike Schüssler. Ons beywer ons vir 1) die afskaffing van lockdowns, 2) die opheffing van die ramptoestand en 3) die omskakeling van alle regulasies na aanbevelings.

Ongelukkig is lockdowns aansteeklik. In dieselfde week wat skerp nuwe inperkings weer in dele van Europa ingestel is, het minister Zweli Mkhize gedreig om beperkings in Suid-Afrika te verskerp. Om lockdowns in Suid-Afrika te stop en om nie te ly onder internasionale ekonomiese skade nie, sal ons dus ook globaal moet begin koördineer.

Vanuit Suid-Afrika: PANDA, wêreldleiers teen lockdown

Baie van ons sou teen dié tyd reeds van PANDA gehoor het: ‘n groep wat in April in Suid-Afrika ontstaan het uit plaaslike aktuarisse, medici, ekonome en ander kundiges. Op eie onkoste en tyd het hulle – teen die gety in – die syfers en ontledings saamgestel wat gewys het hoe skadelik en onwys lockdown in Suid-Afrika is. Soos Alec Hogg dit stel: “My goodness, you have been right.”

PANDA het dit nooit so beplan nie, maar hulle het hulself spoedig onderskei as een van die beste navorsings- en voorspraakgroepe teen lockdowns wêreldwyd. Die afgelope vier weke het hulle nuwe hoogtes bereik toe verskeie van die wêreld se mees gerespekteerde kundiges, insluitende epidemioloë, medici en Nobelpryswenners by hulle aangesluit het. Hieronder tel die drie opstellers van die Great Barrington Verklaring, dr. Jay Battacharia van Stanford, dr. Martin Kulldorff van Harvard en dr. Sunetra Gupta van Oxford. Daar is vandag geen meer gefokusde, gesaghebbende organisasie teen lockdowns as PANDA nie.

Maar nou het PANDA ons hulp nodig. Om internasionaal te koördineer, om alles opsy te skuif, om invloed uit te oefen, kos geld. Tot dusver was dit alles hul eie geld en tyd, maar nou het hulle ‘n hupstoot nodig.

Kom ons maak PANDA die wêreldleiers teen lockdowns. Dit gaan nie net internasionaal help nie, maar ook plaaslik.

Hoe sal ons dit doen?

Kom ons help Business for Ending Lockdown om die eerste mylpaal van R250 000 in te samel en aan PANDA te skenk.

Sakeliga het R50 000 geskenk en ekself het R5 000 geskenk. Klein of groot, jou bydrae sal ‘n verskil maak. Klik hier om direk en aanlyn ‘n donasie te maak.
Alle skenkings sal vertroulik bly, behalwe as jy kies om dit bekend te maak.

Archives