Kennisgewing: Sakeliga kondig regsaksie teen grendelreëls aan

oorregulering-van-die-arbeidsmark-sal-werknemers-slegs-benadeel

Die sakegroep Sakeliga liasseer op Vrydag 15 Mei stukke in ‘n grondverskuiwende hofsaak oor die grendelstaat.

Die regsaksie is daarop gemik om besighede en organisasies sonder winsoogmerk se reg op handel sonder staatsuitgereikte permitte te beskerm, ongeag die vlak van die grendelstaat. Terselfdertyd bevorder die regsaksie ook die behoorlike skeiding van magte wat daar tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede behoort te bestaan, in ‘n tyd wat die nasionale regering eensydige magsuitoefening probeer toepas.

In besonder vra Sakeliga die hof om alle permitvereistes voorgeskryf deur die nasionale regering, behalwe selfuitgereikte permitte, tersyde te stel en wetstoepassers te verbied om ondernemings daaroor te belemmer.

Indien suksesvol sal besighede en organisasies sonder winsoogmerk voortaan op enige vlak van die grendelstaat baie makliker besigheid kan doen. Hulle sal geen CIPC-sertifikate, munisipale permitte, of enige ander permitte behalwe hul selfuitgereikte permitte hoef te vertoon nie. Veral sakelui en werknemers in klein en mediumgrootte ondernemings en organisasies sonder winsoogmerk sal belangrike beskerming teen onwettige arrestasie en ander belemmering geniet. Sakeliga se regsaksie kom te midde van onregmatige arrestasies, belemmering en permitvereistes selfs wanneer ondernemings na eie oordeel en op regsadvies maniere vind om binne die regulasies besigheid te doen.

Die versoekte regshulp sal ook die situasie, dat klein en mediumgrootte ondernemings benadeel word net omdat hulle nie CIPC-sertifikate kon bekom nie, regstel. Ook sal geen organisasie met of sonder winsoogmerk meer aan ekstra munisipale, provinsiale of departementele Covid-19-verwante permitte onderworpe wees nie – iets wat tot dusver veral teen klein- en mediumgrootte ondernemings en organisasies sonder winsoogmerk gebruik is.

Plaaslike en provinsiale owerhede se reg om nie aan onregmatige permitvoorskrifte vanaf die nasionale regering gebonde te wees nie sal eweneens ook versterk wees.

Sakeliga verwelkom die golf van litigasie wat tans deur politieke partye, burgerlike organisasies, industrie-organisasies en andere onderneem word. Die regering tree eensydig, onregmatig, arbitrêr en skadelik op en die spektrum van litigasie sal dit kan versag. Dit blyk dat die regering ongelukkig nie in konsultasie belangstel nie en eers reageer wanneer dit litigasie en ander vorme van openbare druk in die gesig staar.

Verdere besonderhede word na die liassering van die stukke bekendgemaak.

Archives