Grootste gevaar is Regering se reaksie op Covid-19

lockdown

Die mees onlangse grendelregulasies is onverantwoordelik en onaanvaarbaar, gegewe die balans van risiko’s vir lewe en lewensmiddele. Dit bestee al die land se uitgeputte hulpbronne op twyfelagtige stappe teen Covid-19 — één, relatief klein bydraende faktor tot totale mortaliteit in Suid-Afrika — ten koste van alle ander oorsake van risiko en dood. So sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van die sakegroep Sakeliga.

“Wanneer normale gedragspatrone op groot skaal deur regerings ontwrig word, wanneer sentrale beplanning mense verhoed om hul gewoontes op grond van ‘n balans van oorwegings relevant vir hul omstandighede aan te pas, dan bou onbeheerbare druk vir maatskaplike onstabiliteit in ‘n samelewing tot uitbarsting toe op. Kombineer hierdie algemene tendens met die benarde ekonomiese, fiskale en politieke toestande in Suid-Afrika, dan oorskadu die risiko’s vir dood en ontwrigting as gevolg van politieke, ekonomiese en fiskale ontwrigting Covid-19 s’n veelvuldig. Die grootste gevaar in die land vandag is die Regering se reaksie op Covid-19.”

Sakeliga sal die amptelike regulasies bestudeer sodra gepubliseer en streef daarna om lede en die publiek by te staan in die hantering daarvan. Soos altyd sal Sakeliga regsadvies neem oor die konstitusionaliteit, legaliteit en interpretasie van die regulasies.

Argiewe