Gesondheidsregulasies-hofsaak openbaar minagtende konsultasiebenadering 

Dit lyk asof die minister van gesondheid die konsultasieproses geminag het en advies van sy eie adviseurs geïgnoreer het, toe hy op 4 Mei die moniteringsregulasies ingevolge die Wet op Gesondheid gepromulgeer het. Hierdie en ander ernstige tekortkominge blyk uit rekords van die minister en sy departement se besluitneming, wat Sakeliga kragtens die hofreëls in sy saak teen die minister bekom het. 

Rekord van besluitneming 

Die rekords soos aan Sakeliga voorsien skep die volgende indruk: 

  • Die minister se eie adviseurs het hom gewaarsku dat hy prosedureel en substantief onbehoorlik en onwettig sou optree deur die regulasies te promulgeer en dat sy optrede nie in ‘n hof staande sou bly nie;  
  • Die publiek het met honderde duisende publieke kommentare hul afkeur in die voorgestelde regulasies uitgespreek en feitlik niemand is ten gunste daarvan nie; 
  • Die departement van gesondheid het ‘n skyn van openbare konsultasie probeer handhaaf en nie die publiek se kommentaar in goeie trou oorweeg nie; en 
  • Die departement se regulasies en tydsberekening is primêr gemotiveer deur ‘n poging om die ramptoestandregulasies sonder onderbreking onder ‘n ander vaandel te handhaaf, eerder as gesondheidsoorwegings. 

Hofdatum en volgende stappe 

Die hofsaak is vandeesweek deur die regter-president vir verhoor op 26 en 27 Julie 2022 geskeduleer. Dit sal gesamentlik met etlike ander sake teen die regulasies aangehoor word, soos onder andere dié gebring deur Solidariteit, asook AfriForum en Dear South Africa. Alhoewel Sakeliga die verhoor uiteraard vroeër sou wou laat geskied, is hierdie die vroegste datums wat die hof beskikbaar het.  

Ons wys daarop dat die toekomstige verhoordatums nie aan die minister intussen die geleentheid bied om die substantiewe gebreke in sy regulasies by wyse van hernude proklamering uit die hof te hou nie. Sakeliga se aansoek is opgestel om die onderliggende konstitusionele kwessies voor die hof te hou vir so lank as wat die wesenlike aspekte van die huidige regulasies in enige vorm in toekomstige regulasies voortgesit word. 

Sakeliga berei tans sy aanvullende eedsverklaring voor, met inagname van die rekords van besluitneming. Die minister en ander respondente sal daarna geleentheid hê om antwoordende verklarings te liasseer, waarna die saak gesamentlik met die ander sake op 26 en 27 Julie aangehoor sal word.  

Lees meer oor die saak, hier. 

Steun Sakeliga se litigasie hier.

Uitgereik deur: 
Piet le Roux 
Uitvoerende Hoof, Sakeliga 

Tian Alberts 
Regs- en Skakelbeampte, Sakeliga 

Archives