Geen opponering vir Sakeliga se munisipale betaalmeesterhofsaak

pexels-sora-shimazaki-5668882

Sakeliga maan ministers en Noordwes-premier om opponerende stukke voor 25 Augustus te liasseer

Geen van die respondente in Sakeliga se munisipale betaalmeesterhofsaak, insluitend die Minister van Finansies, die Minister van Samewerkende Regering en die premier van Noordwes, het betyds opponerende stukke by die Hooggeregshof in Mahikeng geliasseer nie. Dit volg op meer as een uitstelooreenkoms wat Sakeliga aan die partye toegestaan het.

Sakeliga het die respondente nou ‘n laaste keer aangemaan om teen 25 Augustus hul opponerende stukke te liasseer, met die waarskuwing dat, indien hulle versuim, Sakeliga sal voortgaan met ‘n aansoek om die saak op die onbestrede rol vir verhoor te plaas. Dit beteken dat die respondente geen argumente in die saak sou kon voer nie, tensy hulle by die hof vir kondonasie vir laat liassering aansoek doen.

Sakeliga het in Mei vanjaar ‘n geskiedkundige aansoek by die Hooggeregshof in Mahikeng gebring waarin hy vra dat die Ditsobotla- en Naledi-munisipaliteite onder die administrasie van ‘n spesiale, onafhanklike betaalmeester geplaas word. So ‘n betaalmeester moet toesien dat invorderings vir dienste, soos water en elektrisiteit, direk aan die verskaffers daarvan oorbetaal word, ooreenkomstig die munisipale begroting en verpligtinge, eerder as dat dit deur onbevoegde amptenare verkwis word en sakegemeenskappe en inwoners sonder kritieke dienste gelaat word.

“Dit is duidelik dat boekhouding en administrasie nie by die geraakte munisipaliteite in Noord-Wes bestaan nie. Dit beteken dat miljoene rande vir elektrisiteit, water- en riooldienste en ander infrastruktuurprojekte elke maand straffeloos wanbestuur word en verdwyn, ten koste van besighede. In dieselfde verslae bestempel die ouditeur-generaal sakelui as die beste betalers van munisipale dienste, en rapporteer dan die totale ineenstorting van dienslewering en skokkende wanbesteding deur die munisipaliteite. Sakeliga neem met hierdie aansoek ‘n reuse stap om die voortslepende vermorsing, korrupsie en boewery by Noordwes-munisipaliteite te beëindig,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“By die Naledi-munisipaliteit het daar tussen 2014 en 2020 bykans R1 miljard verdwyn weens vermorste, onreëlmatige of andersins korrupte transaksies. Ditsobotla-munisipaliteit skuld Eskom weer meer as R600-miljoen. Intussen is daar gereelde krag- en wateronderbrekings en kritieke infrastruktuuropgraderings word nagelaat.  Gevolglik word plaaslike ekonomieë tot stilstand gedwing en die hele gemeenskap ly daaronder. Die enigste pad vorentoe vir volhoubare sakeomgewings en gemeenskappe  is om ‘n direkte vloei van geld tussen inwoners en besighede na verskaffers soos Eskom, waterrade en ander diensverskaffers te bewerkstellig en onafhanklik te laat administreer.”

Sakeliga se betaalmeestersaak vorm deel van ‘n langtermynstrategie om staatsverval op munisipale vlak te stuit, sodat sakeomgewings kan herstel van jare se voortdurende wanbestuur en korrupsie. Vorige oorwinnings vir Sakeliga, sy lede en hul gemeenskappe sluit in interdikte om te keer dat Eskom betalende gebruikers se krag afskakel, sowel as bevele in die Hoogste Hof van Appèl wat daarop neerkom dat staatsorgane wat geld aan mekaar skuld nie betalende verbruikers gyselaar kan hou nie.

Klik hier vir die kennisgewing van mosie.
Klik hier vir die funderende beëdigde verklaring.
Klik hier vir die ondersteunende beëdigde verklaring.
Klik hier vir die aanvullende funderende beëedigde verklaring.

Argiewe