Geen behoorlike verweer teen Sakeliga se munisipale litigasie in Noord-Wes

law

Nadat Sakeliga respondente drie keer uitstel verleen het vir laat liassering van stukke in sy betaalmeester-saak in Noord-Wes, het die regering vandeesweek uiteindelik opponerende stukke gelewer. Die respondente, onder meer die Minister van Finansies, Minister van Samewerkende Regering en die Premier van Noord-Wes, het nou opponerende eedsverklarings geliasseer, maar versuim om ‘n behoorlike verweer te opper. 

Sakeliga vra die hof dat Ditsobotla en Naledi munisipaliteite onder verpligte provinsiale administrasie geplaas word soos deur die grondwet en wetgewing vereis*, en dat ‘n spesiale onafhanklike betaalmeester intussen aangestel word om invorderings vir Eskom en ander kritieke diensverskaffers direk aan hulle oor te betaal, sodat dienslewering kan geskied.  

In reaksie hierop, voer die regering nou in hul opponerende stukke aan dat die saak voortydig gebring is aangesien die provinsiale regering van Noord-Wes – so word beweer – reeds ‘n proses van stapel gestuur het om munisipaliteite in Noord-Wes onder verpligte administrasie te laat plaas. Hierdie bewerings word egter gemaak in afwesigheid van nodige ondersteunende dokumentêre bewyse, en blyk ‘n poging te wees om moeilike politieke besluite onbepaald uit te stel. 

“Hulle eie verslae dui daarop dat die provinsiale regering sowel as die nasionale tesourie nou al meer as sewe jaar bewus is van die verval van munisipaliteite in Noord-Wes. Tog was daar deurentyd versuim om, soos wat die Grondwet vereis wanneer munisipaliteite in skuld gedompel is en nie basiese verpligtinge kan nakom nie, verpligte provinsiale ingryping te doen. Vir die regering om nou, in reaksie op Sakeliga se saak, aan te voer dat hulle reeds besig is om verpligte provinsiale administrasie oor mislukte munisipaliteite in te stel, is onvoldoende. Die mislukking op munisipale vlak is die gevolg van jare-lange wanbestuur wat onder die toesig en wete van die provinsiale en nasionale regerings bloot toegelaat is. Sakeliga eis onmiddellike en daadwerklike ingryping, want die regering beplan maar niks gebeur in praktyk nie,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. 

Aangesien die regering geen behoorlike verweer in hul hofstukke geopper het nie versoek Sakeliga nou kragtens die hofreëls verskeie dokumente by die respondente, onder meer verslae en resolusies wat die respondente inderwaarheid by hul stukke moes aangeheg het. Dit sluit in dokumente om hul beweringe, dat hulle inderdaad verpligte administrasie oorweeg het en tydig besluit het om daarmee voort te gaan, te staaf. 

“Dit wil voorkom of die regering hier, by gebrek aan behoorlike regsargumente, na strooihalms gryp in ‘n poging om legitieme ingryping by munisipaliteite in Noord-Wes te verhoed. Ons afleiding is dat die obstruktiewe gedrag verband hou met die verweefde politieke belange van amptenare op sowel munisipale as provinsiale vlak, wat klaarblyklik bedreig word indien finansiële beheer en verantwoordbaarheid op plaaslike vlak herstel word.” 

Die saak sal eersdaags op die Hooggeregshof in Mahikeng se bestrede rol vir verhoor geplaas word. Sakeliga vereis egter eers dat stawende dokumentêre bewyse deur die respondente geliasseer word. 

“Sakeliga het vertroue dat hierdie betaalmeestersaak ‘n korrekte en doeltreffende strategie behels om staatsverval en korrupsie op munisipale vlak aan te spreek, sodat behoorlike dienslewering hervat kan word. Waar munisipaliteite geen behoorlike boekhouding, administrasie of dienslewering kan handhaaf nie, is dit noodsaaklik dat alternatiewe oplossings ‘n inploffing van plaaslike ekonomieë en gemeenskappe verhoed.” 

*Artikel 139(5) van die Grondwet bepaal dat indien ʼn munisipaliteit, as gevolg van ʼn krisis in sy finansiële sake, in ernstige of volgehoue wesenlike versuim is van sy verpligtinge om basiese dienste te verskaf of om sy finansiële ondernemings na te kom, die betrokke provinsiale uitvoerende gesag moet ingryp.  

Laai die opponerende stukke hier en hier af.

Archives