Eskom misgis hom met sy reg om elektrisiteitsvoorsiening aan betalende klante te beëindig

pexels-energepiccom-313690-scaled-1 (1)

Eskom maak verkeerde gevolgtrekkings uit die uitspraak hierdie week gelewer in die Pioneer Foods-saak teen Eskom, die Walter Sisulu Plaaslike Munisipaliteit en NERSA.

Teenstrydig met sy mediaverklaring vandeesweek, het Eskom nie ‘n algemene reg om elektrisiteitsvoorsiening aan betalende klante in wanbetalende munisipaliteite te beëindig nie. Die uitspraak in die Gautengse Plaaslike Afdeling Johannesburg is ‘n uitsondering vergeleke met die tientalle ander bevindinge teen Eskom in Hooggeregshowe. Die Pioneer Foods bevinding hou verband met feite wat spesifiek op die aansoek, soos deur Pioneer Foods gebring,  en het nie ‘n nuwe regspresedent geskep nie.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê dit sou ‘n fout wees vir Eskom om te dink dat hy danksy die Pioneer Foods uitspraak nou sy huidige skuldinvorderingstrategie kan verskerp.

“In teenstelling met Eskom se voorstel, stel die uitspraak nie ‘n lisensie daar om die algemene beëindiging van elektrisiteitstoevoer te hervat nie. Die onderbreking van toevoer aan betalende eindgebruikers in munisipaliteite wat besig is om ineen te stort is nie ‘n oplossing nie en ook nie wettig nie. Daar moet eerder na oplossings gesoek word om elektrisiteitsbetalings weg te hou van die geldkas van verkwistende munisipaliteite, waar dit vassit, gesteel en vermors word en weerhou word van verskaffers van dienste en infrastruktuur, waarvan elektrisiteit maar een voorbeeld is.”

Daar moet van die volgende kennis geneem word rakende die Pioneer Foods uitspraak:

  1. Die uitspraak is eerder teen die saak van Pioneer Foods, as ten gunste van Eskom se reg om elektrisiteitsvoorsiening te beëindig. Dit hou verband met ‘n kombinasie van tegniese en inhoudelike aangeleenthede, met die inhoudelike aangeleenthede wat boonop op die oog af gronde vir appèl daarstel.
  2. Die saak is voor een regter aangehoor en nie ‘n vol hof, ook bekend as ‘n volbank, soos beskryf in artikel 13(1)(a) van die Hooggeregshofwet, nie. Daar is reeds ‘n oorvloed van teenstrydige uitsprake en volbank besluite wat voorkeur sal geniet bo die bevindings van die Gautengse Plaaslike Afdeling Johannesburg van die hooggeregshof.
  3. Die Pioneer Foods uitspraak is in stryd met die uitspraak van die Gautengse Afdeling Pretoria, met spesifieke verwysing na die sogenaamde Resilient-saak wat op 27 Augustus 2020 deur die volbank van die Hoogste Hof van Appèl aangehoor is. In hierdie saak het Sakeliga die howe tot dusver suksesvol gehelp om vas te stel dat die versuim van ‘n plaaslike munisipaliteit om sy skuld aan Eskom te betaal ‘n interregeringsgeskil is, onderhewig aan die Intergovernmental Relations Framework Act, en dat dit nie betalende eindgebruikers se probleem moet wees nie. Hierdie argumente is nie in die Pioneer Foods-saak aangevoer nie. Sakeliga wag op die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl wat vir hierdie tipe sake van groot belang sal wees.
  4. Die publiek het reeds daarin geslaag om tientalle interdikte van dieselfde aard te bekom as wat Pioneer Foods teen Eskom gevra het. Hierdie uitsprake staan in kontras met die uitspraak in Pioneer Foods en Sakeliga voorsien dat die tendens sal bly ten gunste van betalende eindgebruikers wat geen verantwoordelikheid dra vir die wanbestuur van munisipaliteite nie.

Le Roux sê Sakeliga “steun die beginsel dat klante moet betaal vir dienste gelewer en dat Eskom die geld wat hulle toekom dus moet ontvang. Ons sal egter voortgaan om Eskom teen te staan in sy strategie om betalende klante gyselaar te hou, aangesien dit geen oplossing bied nie. In ons huidige sake, sowel as in verdere eersdaagse gedinge en verwante ingrepe, poog ons om langdurige oplossings te ontwikkel, wat ten doel het om te voorkom dat geld wat betaal word in die hande van korrupte, verkwistende of andersins onbekwame munisipale amptenare beland.”

Le Roux sê dat sakekamers ‘n belangrike rol kan speel om die onderbreking van elektrisiteitsvoorsiening te voorkom: “Effektiewe sakekamers is van kardinale belang om weer orde en welvaart op plaaslike en munisipale vlak te herstel. Ons is beskikbaar om sakekamers te help met strategieë hiervoor.”

Archives