Energie-onafhanklikheid word nie verleen nie, maar teruggeneem

pexels-miguel-á-padriñán-230518

Deur Russell Lamberti
Uitvoerende Direkteur: Navorsing en Strategie
Sakeliga

In Januarie 2008 het ek en my vrou ’n vriend genooi vir aandete by ons huis in Johannesburg. ’n Uur voor sy koms en met ’n halfgaar hoender in die oond is kragvoorsiening onderbreek en was die aand ’n ramp. Dit was ons eerste belewing van ‘n verskynsel wat gou “beurtkrag” sou heet en een van die bepalende eienskappe van die alledaagse lewe in Suid-Afrika sou word.

Huishoudings en sakeondernemings ondervind vandag steeds elektrisiteitsrantsoenering, ’n duur en demoraliserende herinnering aan die staat se versuim om aandag te gee aan ’n krisis wat bykans 15 jaar gelede vir die eerste keer aan die lig gekom het.

Hoewel Eskom se mislukkings teen 2007/2008 merkbaar geword het, het die fiasko al jare tevore ontstaan, in die 1990’s, toe die staat Eskom begin bedryf het as ’n instrument van welvaartverspreiding, rasideologie en eliteverryking. Dit is alles goed gedokumenteer en hoef nie hier in besonderhede weergegee te word nie. Dit is ’n jammerlike verhaal van onderinvestering, die gebruik van ’n onderneming in staatsbesit as ’n werkverskaffingsoustrein, die verwoesting van vaardighede deur rasbehepte nepotisme, hopeloos korrupte verkryging, reddingsboeie op koste van die belastingbetaler, bestuursonbekwaamheid en nog baie meer.

Die aanhoudende mislukkings van Eskom kom teen groot koste vir die ekonomie en die samelewing. Dit is nie net ’n beduidende bydraer tot Suid-Afrika se ekonomiese stagnasie oor die afgelope dekade nie, maar dit ondergrawe ook beleggersvertroue en die moraal van die samelewing. Daaruit vloei dan meer misdaad, geweld en rasgebaseerde wette wat mense en welvaart landuit dryf, en die ongebreidelde verbruik van binnelandse kapitaal (dit word opgebruik sonder aanvulling).

Ons moet egter nie glo dat dat hierdie probleem van voortdurende energietekorte en uiterse netwerkkwesbaarheid bloot ’n monetêre koste of ’n tegniese- of bestuursuitdaging vir ons gemeenskappe inhou nie. Ja, dit is al daardie dinge,maar dit is veel meer ernstig. Dit moet gesien word as ’n pynlike en kwaadwillige aanslag van die staat op ons lewensbelange.Dus, ’n bedreiging nie net vir sake-inkomste of die plesier van TV-kyk in die aand nie, maar ‘n ondermyning van die heel basiese grondslae van die moderne sosio-ekonomiese bestel en stabiliteit – bekostigbare en beskikbare energie – en gevolglik ’n bedreiging vir tallose lewens en die risiko van ontsaglike menslike tragedie.

Hierdie aanslag op ons lewensbelange en dié van ons gemeenskappe en die Suid-Afrikaanse samelewing in die breë spruit veral voort uit die hardnekkige aandrang van die staat dat Eskom (met geringe uitsonderings) sy elektrisiteitsmonopolievoorreg behou , met gepaardgaande ondermyning van pogings om alternatiewe energie te verskaf aan ’n ekonomie en ’n samelewing watdringend verligting nodig het.

By Sakeliga is ons van mening dat hierdie situasie ’n growwe en onregverdige morele mislukking aan die kant van die staat daarstel en die basiese beginsels van konstitusionalisme skend. Dit is van die grootste belang dat huishoudings, sakeondernemings, gemeenskappe en dorpe met hernude ywer moet voortgaan met die proses om energie-onafhanklikheid terug te neem van ’n korrupte en kwaadwillige staat. Daarby moet energie vervaardig en verskaf  word in toestande wat so vry en mededingend as moontlik is, sodat  ’n wye verskeidenheid beskikbare energietegnologieë deur entrepreneurs ontdek en getoets kan word onderhewig aan die dissipline van wins en verlies.

Ja, Eskom moet hervorm, herstruktureer en geprivatiseer word. En ja, ons weet hierdie proses gaan gepaard met sistemiese risiko’s, logistieke uitdagings en tegniese probleme wat wyse en oordeelkundige bestuur vereis. Trouens, ondanks wat ons dalk dink behoort te gebeur, is daar geen waarborg dat, alle faktore in ag genome, dit sal of selfs kan gebeur nie.

Dit is hoekom dit onhoudbaar is om op die hervorming van Eskom te reken en daarvoor te wag.

In plaas van wag, moet private en selfs openbaar-private alternatiewe vir Eskom-elektrisiteit op die been gebring word, ongeag of die sentrale staat en Eskom bereid en in staat is om te hervorm.

Die oorgang van ’n Eskom-monopolie na ’n vrye mark in energie is ’n proses wat veels te belangrik en kompleks is om op sentrale vlak deur burokrate, geïsoleerde tegnokrate of politieke aktiviste hanteer te word. Die taak is trouens so kompleks dat net ’n gedesentraliseerde en mededingende mark dit kan oplos met gebruikmaking van veelvuldige tegnologieë, verspreide ingenieurskundigheid, plaaslike kennis, winsaansporings, prysseine, verbruikersterugvoer en talle ander middele.

Die hindernis vir energievryheid is nie bloot ’n mislukkende en kwaadwillige staat nie. Hindernisse voltrek ook in die vorm vanideoloë en aktiviste wat wil voorskryf hoe die energiemark moet lyk, watter tegnologieë “aangeneem” moet word, wie moet wen en wie moet verloor. Daar is verskeie dryfvere agter hierdie begeerte om die energiestelsel sentraal te beplan en te reguleer, waarvan sommigespruit uit goedbedoelde oorwegings en ander weer  verband hou met die alewige strewe na politieke of ekonomiese mag. Hoe dit ookal sy en watookal die onderliggende bedoelings mag wees, sal  sentrale planne vir energieoplossings onvermydelik  misluk weens die onmeetbare kompleksiteit van groot energiestelsels en veranderende tegnologiese- en vraag-en-aanbod werklikhede.Alternatiewelik sal die stelsel  vasval in onoplosbare politieke dooie punte en sal die huidige koers van mislukking bloot op ander wyse  nagevolg word.

Ons mees vername energieprioriteit is om genoeg energie te produseer, teen bekostigbare pryse in mededingende en verbruikersresponsiewe toestande. Die werklikheid bepaal dat dit ’n mark van veelvuldige energietegnologieë, ondernemings, prysstrategieë en vlakke van openbare en privaat koördinering sal moet behels, met voorsiening vir die behoeftes van baie tipes energiegebruikers in ’n allerlei kontekste soos grootskaals en hoofstroom tot klein, nis- en eiesoortig.

Ons moet bedag wees op pogings deur burokrate, staatskornuite en ideoloë om ons strewe na energie-onafhanklikheid in die wiele te ry. Hierdie verlammende pogings is per slot van sake ‘n aanslag op ons lewensbelange as individue, sake-eienaars en gemeenskappe en moet teengestaan word van veelvuldige weë en met verskeie middele tot ons beskikking. Deeglike koördinering met die morele oortuiging dat dit die regte ding is om te doen, sal die strewe na energie-onafhanklikheid moet onderskraag.

Dit is onteenseglik, soos inbaie ander markte, dat vryheid en onafhanklikheid in die energiemark nie deur welwillende leiers verleen sal word nie – dit sal teruggeneem moet word deur veerkragtige, staatsbestande gemeenskappe, maatskappye en instellings.

Argiewe