Eerste groot grondbesettings van 2020 begin in Silverlakes en Boschkop in Tshwane

IMG-20200111-WA0006
"EFF Winnie Mandela View Extension 3", in die Boschkop-omgewing naby Pretoria.
“EFF Winnie Mandela View Extension 3”, in die Boschkop-omgewing naby Pretoria.

Na aanleiding van die eerste groot grondbesettings van 2020 in Silverlakes en Boschkop in Tshwane het die sakeorganisasie Sakeliga vandag ’n waarskuwing aan sakeondernemings en die publiek gerig om waaksaam te wees vir toenemend listige grondbesettingstaktiek deur die EFF.

In die loop van verskeie dae die afgelope week het groepies grondbesetters wat sê hulle is van die EFF, probeer om grond van ontwikkelaars noordoos van Pretoria te beset. Grondbesetters het op verskeie terreine by Silverlakes en Boschkop toegeslaan en “erwe” op die eiendomme probeer skoonmaak; hulle noem hierdie toekomstige nedersettings selfs “Winnie Mandela View”, met blykbaar ten minste drie uitbreidings daarvan. (Kyk aangehegte fotos.)

EFF se nuwe taktiek

Vinnige regsoptrede en samewerking met die polisie hou die grondbesetters tot dusver in bedwang, maar regsoptrede en uitsetting word bemoeilik deur toenemend gesofistikeerde besettingstaktiek. Ons wys op twee faktore wat grondeienaars in gedagte moet hou wat grondbesettings betref.

Eerstens blyk dit dat die grondbesetters verkenningsprosedures volg om onbewaakte grond te identifiseer voordat hulle permanente strukture begin oprig. In hierdie geval doen grondbesetters eers verkennende invalle op verskeie verskillende terreine om die reaksiesnelheid van eienaars en wetstoepassers te toets. Die grondbesetters identifiseer dan ’n eiendom, begin om plante en materiaal te verwyder en volg dit op met die uitlê van persele vir besetting. As eienaars of wetstoepassingsowerhede reageer, beweeg hulle na ’n ander gebied, totdat hulle reken dat ’n gebrek aan onmiddellike reaksie vir hulle tyd sal gee om permanente strukture op te rig.

Tweedens is grondbesetters mobiel en kan hulle vanuit die stabiliteit van bestaande akkommodasie optree. In hierdie geval kon grondbesetters die swaar reën in die gebied vermy deur pad te gee en oor etlike dae herhaaldelik na besette eiendom terug te keer. Hulle hou waarskynlik ook boumateriaal op hierdie alternatiewe persele gereed, wat hulle gebruik slegs wanneer hulle tevrede is met die gebrek aan reaksie van ’n eienaar of wetstoepassers.

Waaksaamheid en snelle optrede is nodig

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, waarsku dat 2020 groot waaksaamheid gaan vereis om grondbesettings te voorkom: “Hier aan die begin van 2020 word dit al hoe belangriker vir ontwikkelaars, boere en ander grondeienaars om hulle eiendomme fyn dop te hou. As grondbesetters eers permanente strukture opgerig en hulle op ’n stuk grond gevestig het, word dit geweldig ingewikkeld en duur om hulle daar weg te kry.”

“Ons beveel aan dat eienaars, veral in die geval van onbeboude grond, stappe doen om die grond dikwels of selfs deurlopend te monitor in gebiede waar die EFF bedrywig is. Dit is net so belangrik dat lede van die publiek die eienaars van sulke eiendomme laat weet wanneer hulle skynbaar onwettige grondbesetting sien. Waaksaamheid teen grondbesetting is nie net vir die eienaars belangrik nie maar ook vir gemeenskappe van alle rassegroepe en die land as geheel,” sê Le Roux.

Grondgryp 911

Grondeienaars wat proaktiewe stappe wil doen, word aangemoedig om Sakeliga se platform vir bystand teen grondbesettings te besoek by www.grondgryp911.co.za. Dit bied stap-vir-stap-instruksies vir die voorkoming van grondgrype, asook toegang tot bekostigbare regshulp en inligting wat deur die Hooflandmeter-generaal gehou word, soos ’n eiendom se afmetings en GPS-koördinate.

Sakeliga se aansoek by die Konstitusionele Hof

Sakeliga gaan volgende week aansoek doen om as amicus curiae (vriend van die hof) toegelaat te word in die EFF se saak in die Konstitusionele Hof teen die Direkteur van Openbare Vervolging en die Minister van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling. Die saak handel in wese oor die strafregtelikheid al dan nie van aansporing tot grondbesetting en die omvang van die misdryf van oortreding.

Die EFF versoek ’n verklaring van ongrondwetlikheid ten opsigte van artikel 18(2) van die Wet op Oproerige Byeenkomste, No 17 van 1956 (“Wet op Oproerige Byeenkomste”), en verklarende regshulp ten opsigte van die Wet op Oortreding, No 6 van 1959 (“Wet op Oortreding”), gelees met die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond, No 19 van 1998.

Sakeliga sal die Direkteur en die Minister steun in hulle betoog dat artikel 18(2) van die Wet op Oproerige Byeenkomste nie net grondwetlik is nie maar trouens van groot belang is vir die handhawing van wet en orde. Sakeliga sal ook argumenteer teen die EFF se aansoek vir verklarende regshulp rakende die Wet op Oortreding.

“Ons is van mening dat mnr Julius Malema en die EFF die vryheid wil kry om mense tot grondbesetting aan te spoor en regsoptrede teen grondbesetting geweldig ingewikkeld en duur te maak. Hulle wil iets wat in wese misdadige optrede is, wettig laat verklaar onder die sluier van politieke en spraakvryheid en bewegingsvryheid. Die poging om die toepassing van die Wet op Oortreding lam te lê, is klaarblyklik daarop gemik om privaat eiendomsregte te verydel en grondbesetting te steun,” sê Le Roux.

Sakeliga sal sy argumente en aansoek teen 18 Januarie 2020 by die Hoofregter indien, met die oog op beregting in die Konstitusionele Hof op 18 Februarie 2020.

Archives