Dringende litigasie teen afsny van water in Noordwes

law
Sakeliga berei tans ’n dringende hofaansoek voor om watertoevoer in Noordwes te verseker en ’n plaaslike ekonomiese katastrofe te voorkom. Dit kom nadat Sedibeng-water op 25 Mei opdrag gegee het dat waterdienste in groot dele van Noordwes vanaf 1 Junie 2021 opgeskort word.  

Die onderbreking raak die hele Ngaka Modiri Molema-distrikmunisipaliteit, sowel as die Mahikeng, Ditsobotla, en Ratlou Plaaslike Munisipaliteite. Dit betrek dorpe soos Mahikeng, Lichtenburg, Delareyville, Ottosdal, en Zeerust. 
“Die staat moet ophou om sy interne probleme na sakelui en gemeenskap op te wentel. Sedibeng-water is ’n staatsorgaan en het nie die reg om dienste aan sakelui en die publiek op te skort net omdat dit nie ’n ander staatsorgaan sover kan kry om geld oor te betaal nie,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.  

“Soos nou reeds in ander regspraak wat Sakeliga onderneem het bevestig is, mag ’n staatsorgaan soos Sedibeng-water nie sy dienste aan betalende sakelui en die gemeenskap onderbreek voordat dit die wetlike voorskrifte oor interregeringsgeskille gevolg het nie. Boonop het Sedibeng-water in hierdie geval nie eens die sakelui of gemeenskappe behoorlik in kennis gestel of geraadpleeg nie.”  

Le Roux wys op die skadelike humanitêre en ekonomiese gevolge van ’n skielike, eensydige onderbreking van waterdienste. “Alle dorpe in Noordwes ly reeds onder erge staatsverval en korrupsie. Die afsny van water kan in baie gevalle nou soveel skade beteken dat besighede finaal besluit om uit ’n gebied te vertrek, met ’n spiraal van agteruitgang wat volg.”  

Sakeliga het Sedibeng-water tot 27 Mei om 10:00 gegee vir ’n onderneming om sy instruksie aan sy werknemers terug te trek en sy dienste voort te sit. Intussen berei Sakeliga se regspan die nodige dringende aansoek voor, om die hof vir ’n gepaste interdik te vra.  

“Ons voorsien dat die uitkoms van hierdie dringende litigasie sal wees om water ten minste op ’n tydelik basis te verseker. Dit sal soortgelyk wees aan die rol wat ons in elektrisiteitsverwante litigasie gespeel het, soos met die Resilient-uitspraak in Desember 2020. Tot tyd en wyl ’n blywende oplossing ontwikkel word wil ons verhoed dat staatsorgane dienste op onregmatige wyse opskort.   

Sien hier die brief deur Sakeliga se prokureurs aan Sedibeng-water. 

Blywende oplossing: Groter regstrategie vir plaaslike ekonomiese herstel  
Met die oog op ’n blywende oplossing het Sakeliga die afgelope maande aan ’n omvattende regstrategie oor munisipale verval en vir plaaslike ekonomiese herstel gewerk. Hierdie verdere en unieke litigasie word later vandeesweek aangekondig, met stukke wat tans op al die partye beteken word. 

“Die saak gaan ’n struktuur en werkswyse aan die hof voorstel, waarmee ineengestorte munisipaliteite reggeruk en plaaslike ekonomieë landswyd gered kan word. Dit sal nie ’n oornag-oplossing bied nie, maar dit sal ’n grondslag vir herstel lê. Die saak sal die verpligtinge en versuim van Nasionale Tesourie en die uitvoerende gesag, om tydig in te gryp, beklemtoon, en – belangrik – regspraak nastreef wat dienstegelde uit die hande van korrupte, wanbestedende of onbevoegde munisipale amptenare kan hou,” sê Le Roux.  

Die hofaansoek vir hierdie groter regstrategie sal aanvanklik twee munisipaliteite in Noordwes betrek, met die doel om ’n grondslag in die reg te lê vir goedkoper en makliker regshulp by ander munisipaliteite in Noordwes en elders. 
Archives