Die regering se voorgestelde Cloud Policy en data-nasionalisering is ‘n bedreiging vir internasionale mededingendheid – Sakeliga

pexels-fernando-arcos-211151

Die regering se voorgestelde Cloud and Data Policy mis die punt – en is meer geneig om plaaslike ondernemings te benadeel. Dit volgens Sakeliga, in kommentaar wat aan die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë voorgelê is.

Sakeliga se kommentaar volg op die publikasie van en oproep vir kommentaar deur die departement op ‘n onlangse konsep National Policy on Data and Cloud, wat daarop gemik is om talle regulasies en vereistes vir data- en cloud-dienste daar te stel.

Volgens Sakeliga bevat die konsepbeleid verskillende beswarende ingrypings, waaronder duur mandate vir die duplisering van data-opberging, die aanwys van data wat plaaslik gegenereer word as “eiendom van Suid-Afrika” en die uitbreiding van SEB in die ITS-sektor.

Sakeliga is veral bekommerd oor ‘n skynbare beleid vir data-nasionalisering. “Data-nasionalisering is die soort regulatoriese oorskryding wat burgerlike en sakegroepe volledig behoort teen te staan,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Volgens Daniel du Plessis, Sakeliga-regsontleder, loop die regering die risiko om ernstige ekonomiese skade te veroorsaak. Vorige foute deur die regering, soos vertragings by die toewysing van radiospektrum, het ekonomiese ontwikkeling aansienlik belemmer. “Dit is baie duidelik dat die werksaannames van die regering nie veel verband hou met die huidige stand van die mark nie. Lomp pogings om swak beleid toe te pas, sal waarskynlik net ‘n merkwaardige suksesvolle en innoverende bedryf noodlottig ontwrig.”

Sakeliga is nie oortuig van die regering se bewering dat addisionele ingryping nodig is nie. “Vooruitgang in tegnologie,” vervolg Du Plessis, “beteken dat KMMOs toegang het tot wêreldwye infrastruktuur – en teen ‘n fraksie van die koste.”

“Hierdie mark werk; dit is baie mededingend en ontwikkel vinnig. Suid-Afrika loop die risiko om uit te mis op hierdie sukses en plaaslike ondernemings en gevestigde maatskappye in ‘n agterstand te laat om met hul internasionale eweknieë te kompeteer.”

“Baie plaaslike maatskappye maak ruim gebruik van internasionale diensverskaffers en die doel van die konsepbeleid is grootliks om kommersiële verhoudings met swaar regulatoriese vereistes in gevaar te stel.”

“Alhoewel die Suid-Afrikaanse regering plaaslike mededingendheid wil verbeter, is dit onwaarskynlik dat lomp regulatoriese voorstelle dit sal moontlik maak. Die waarskynlikste uitkoms is om Suid-Afrikaanse maatskappye internasionaal minder mededingend te maak. Gegewe hoe maklik hierdie maatskappye kan verhuis, is dit nie duidelik waarom baie hoogs mobiele IT-ondernemings in die land sou bly nie.”

Lees die volle kommentaar hier

Archives