Regering beëindig ramptoestand in naam, terwyl dit vasklou aan permanente magte 

49703580658_ae6a848fd6_b

Die Nasionale Ramptoestand word in naam beëindig, maar die regering weier om van sy regulatoriese magte wat hy daarmee bekom het afstand te doen – dit is waarop gisteraand se aankondiging deur president Cyril Ramaphosa neerkom. Sakeliga verwerp die vervanging van tydelike rampmaatreëls met permanente inmenging en sal daarom sy werk, om dit teen te staan en normaliteit te herstel, voortsit. 

Ons oorweeg litigasie en ander maatreëls as ‘n saak van dringendheid. Die regering se “opheffing” van die ramptoestand is klaarblyklik bloot ‘n poging om aktiewe litigasie en ‘n verlies aan legitimiteit teen te werk, deur die regulasies in nuwe politieke kruike – wat vir permanensie ontwerp is – te skink. Die volgende is opvallend: 

  1. Die huidige regulasies sal (onwettiglik) vir ten minste die volgende 30 dae in plek bly. 
  1. Nuwe Beroepsgesondheid- en Veiligheidskodes, wat vir werkgewers ‘n duur berg Covid-nakoming daarstel, het vanoggend in werking getree. 
  1. Regulasies ingevolge die Nasionale Gesondheidswet word gefinaliseer vir inwerkingtreding 30 dae van nou af. Die konsepweergawe hiervan is reeds wyd gekritiseer as duur, skadelik, irrasioneel en bevorderlik vir onaanspreeklike regering. 

In die komende weke sal besighede, kerke, werknemers, skole, universiteite, burgerlike organisasies en die publiek in alle ander sfere van die samelewing moet besluit of hulle gehoor gaan gee aan die nuwe regulatoriese raamwerk. Kritieke besluite lê voor, nie alleen oor litigasie nie, maar ook oor inskiklikheid of weiering in die aangesig van sulke misbruik van mag deur die staat. 

Archives