Die kern van Sakeliga se argumente in sy betaalmeestersaak

Files

Sakeliga het vroeër vanjaar ‘n sogenaamde “spesiale betaalmeester”-hofsaak in Noord-Wes aangekondig, met die oog op ‘n meer bevorderlike sake-omgewing vir lede en inwoners in die algemeen in Noord-Wes. Dit is miskien nodig om stil te staan by ‘n paar vrae oor hierdie hofsaak. Waarom nou hierdie saak bring? Hoekom dink Sakeliga dat ‘n betaalmeester gepaste regshulp in hierdie geval is? En gaan die betaalmeester en ander regshulp wat Sakeliga vra, enigsins ‘n verskil maak in die langtermyn? Vir watter regshulp vra Sakeliga ooit?

Kom ons begin met die kwessie van bewyslas. Gegewe die ooglopende verval in dorpe soos Lichtenburg, Koster en Vryburg wat inwoners elke dag self beleef, mag dit dalk vreemd klink dat ten einde te kan slaag met die aansoek wat Sakeliga nou in Noord-Wes geloods het daar eers bewys moet word dat munisipaliteite in Noord-Wes feitlik vervalle is. Dit verg in diepte ondersoeke, oudits en ander prosesse om in die hof so ‘n bewyslas te kan kwyt. Die Nasionale Tesourie het egter verlede jaar in hul eie verslag oor die stand van sake met munisipaliteite in Noord-Wes die indruk geskep dat omtrent elke munisipaliteit in Noord-Wes oor die laaste dekade heeltemal verval het. Die onafwendbare gevolgtrekking wat dus direk van die verslag gemaak kan word is dat gemeenskappe nie langer op plaaslike regering in Noord-Wes kan steun vir die mees basiese munisipale dienste nie. Dit vergemaklik geweldig Sakeliga se bewyslas om verval voor die hof te bewys, en Sakeliga kon dus voortgaan met die saak.

Die Nasionale Tesourie se verslag dui daarop dat Naledi en Ditsobotla munisipaliteite in besonder in skuld gedompel, korrup en feitlik insolvent is. Sakeliga argumenteer voor die hof dat hierdie stand van sake ‘n geweldig nadelige impak op elke inwoner wat binne die jurisdiksie van hierdie munisipaliteite woon, het en inbreuk maak op die regte van diegene daar om vrylik besigheid te bedryf, op volhoubare basis mense in diens te neem, en om ‘n ekonomies volhoubare bestaan te voer.

Sakeliga se argumente strek egter verder as bloot die rol van plaaslike regering: alhoewel hierdie munisipaliteite self aanspreeklik is vir die growwe wanbestuur van hul sake, kan die katastrofiese aard van die krisis aan verval op alle vlakke van regering toegeskryf word. Die provinsiale regering van Noord-Wes, sowel as die nasionale regering, moes aldus Sakeliga al lankal betekenisvol ingegryp het in hierdie munisipaliteite. Artikel 139(5) van die Grondwet en gepaardgaande wetgewing vereis in sulke omstandighede dat die provinsiale uitvoerende gesag ingryp in die munisipaliteite aan die hand van ‘n herstelplan wat deur die Nasionale Tesourie voorberei moet word. Dit het nie gebeur nie, en Sakeliga vra nou die hof om die proses af te dwing.

Tot op hierdie punt van die saak vra Sakeliga dus bloot vir die hof dat die prosesse wat deur die Grondwet en wetgewing vir alle vlakke van regering voorgeskryf word vir verpligte ingryping in vervalle munisipaliteite, gevolg moet word en dat alle vlakke van regering deur die hof gelas moet word om hierdie prosesse te volg soos wetgewing bepaal.

Die saak stop egter nie hier nie. Sakeliga is nie oortuig dat die provinsiale regering en Nasionale Tesourie, wat na bewese vir 10 jaar nie daarin kon slaag om verval en korrupsie op plaaslike vlak in Noord-Wes te takel nie, onmiddellike verligting vir besighede in inwoners in Naledi en Ditsobotla sal kan bied nie. Hangende die behoorlike implementering van die Nasionale Tesourie se herstelplan, vra Sakeliga daarom dat ‘n onafhanklike spesiale betaalmeester aangestel word om inkomste wat ingevorder word weens die verkoop van water en elektrisiteit, in ‘n aparte munisipale bankrekening in te vorder. Verskaffers van water en elektrisiteit, sowel as noodinstandhouding van water- en sanitasiestelsels, moet deur die betaalmeester vanuit hierdie rekeninge betaal word. Geld wat oorbly kan dan na die munisipaliteit se gewone rekening oorgeplaas word.

Die betaalmeester sal onmiddellike verligting kan bied deurdat vir die eerste keer in jare, verskaffers van kritieke dienste en infrastruktuurinstandhouding behoorlik betaal sal kan word. Dit sal geld wat byvoorbeeld vir Eskom toekom, uit die hande van korrupte amptenare hou en die opgeblaasde lonerekening van die munisipaliteite ondergeskik stel aan diensleweringspligte.

Die betaalmeester-remedie is gepas, omdat die Konstitusionele Hof reeds hierdie remedie ingespan het in ‘n vorige saak, Mwelase and Others v Director-General for the Department of Rural Development and Land Reform and Another. Die Konstitusionele Hof het hier bevind dit is binne hof se bevoegdheid om spesiale betaalmeester aan te stel (in daardie geval om by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, grondhervormingseise te verwerk). Waar die regering of ‘n staatsorgaan duidelik nie in staat is om ‘n grondwetlike funksie te verrig nie, is die hof by magte om regshulp aan geaffekteerde partye te verleen wat doeltreffend in die omstandighede sal wees.

Die betaalmeester-remedie is ook gepas en tydig, omdat boekhouding en administrasie feitlik nie bestaan by Ditsobotla en Naledi munisipaliteite nie, en oorsig en bestuur deur ‘n onafhanklike, eksterne persoon die enigste doeltreffende remedie kan wees tot tyd en wyl die herstelplan van die Nasionale Tesourie behoorlik geïmplementeer word.

Sakeliga is egter realisties oor die betaalmeester-saak. Die hofsaak, indien suksesvol, is nie ‘n volledige oplossing nie maar slegs ‘n eerste stap om besighede en inwoners in landelike gebiede teen staatsverval te beskerm. Dit koop tyd om parallelle strukture in samewerking met sakekamers op te rig wat besighede ruimte sal bied om buite-om die verval van die staat hul besigheid te bedryf. Meer hieroor sal eersdaags aangekondig word.

Tian Alberts is ‘n regs- en skakelbeampte by Sakeliga.

Archives