Die inperking versmoor een van SA se grootste bates

Onafhanklike skrywer: Chris Hattingh

Volgens die Minister vir Toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, het die toerisme sektor sover in 2020 R54.2 miljard verloor. Ons moet die effek van COVID-19 op internasionale toerisme in gedagte moet hou, maar dit word by die dag duideliker dat die Suid-Afrikaanse regering se eie inperking en COVID-19-regulasies die toerisme sektor se besigheid baie negatief geaffekteer het. Verder is dit nie net gastehuiseienaars en groot hotelle wat ly onder die inperking nie; werknemers, hul families, vennote in die kos- en drankindustrie en verskeie dienste-verskaffers in die voorsieningsketting sukkel om enigsins na voor-COVID vlakke terug te keer.

Die doel van die inperking was, volgens die regering, om die druk van COVID-19 op gesondheidsdienste te verminder. In die proses het die regering en ondersteuners van die streng inperking egter geheel en al vergeet van die grootskaalse negatiewe effekte wat daarmee gepaardgaan wanneer mense verhoed word om te werk. In dieselfde voorlegging as bo genoem, het Minister Kubayi-Ngubane gesê daar is ‘n kans dat ongeveer 600 000 mense in die toerismesektor hul werk kan verloor as dié sektor nie oopmaak teen September nie. Met meer as 10 miljoen werkloses voor COVID-19, sal sulke nommers verwoestend wees vir die ekonomie en die Suide-Afrikaanse samelewing.

Die Toerisme Departement het dit wel duidelik gemaak dat verligting vir toerisme-besighede voorsien sou word, mits die besigheid wat aanspraak maak, voldoen aan sekere rasse-vereistes. Hierdie perspektief mis die groter prentjie, naamlik dat mense van alle rasse in die toerismesektor werk. As die eienaar van ‘n besigheid net toevallig ‘n wit velkleur het, gaan die besigheid klaarblyklik nie hulp ontvang nie en daar is ‘n groter kans dat al die werknemers in die besigheid gevolglik hul werk kan verloor.

Die regering moes egter in die eerste plek nie toerisme-besighede in hierdie lewe-of-dood situasie geplaas het nie. Op die oomblik mag mense net in gastehuise bly as hulle reis vir besigheid. Airbnb’s – wat vir baie Suid-Afrikaners darem ‘n bietjie ekstra inkomste kan bied – is steeds toe. Talle buitelandse mense het nog net gehoor hoe spesiaal Suid-Afrika is en na maande van inperkings regoor die wêreld, is mense honger om weer te reis (en as hulle reis, gaan hulle duisende in hul geldeenhede hier spandeer). Daar is dus nie ‘n beter tyd as nou om Suid-Afrika se grense weer heeltemal oop te maak vir toerisme nie. Solank gastehuise duidelike COVID-19-maatreëls in plek het, moet die regering hulle toelaat om weer hul deure oop te maak vir toeriste – plaaslik en van die buiteland.

Volgens Fin24 het reis en toerisme in Suid-Afrika in 2018 die volgende bygedra: 1.5 miljoen werksgeleenthede en R425.8 miljard tot die ekonomie – 8.6% van alle ekonomiese aktiwiteit in die land. Ons kan nie die belangrikheid van toerisme onderskat nie. Ongelukkig dui die feite daarop dat die regering geen benul het van die belangrikheid van die sektor nie en dat daar geensins dringendheid is om die deure weer oop te maak nie. Volgens ‘n onlangse artikel op City Press verloor die sektor ongeveer R750 miljoen elke dag – niemand kan verliese soos hierdie absorbeer nie.

Ekonomiese vooruitgang en hoër lewenstandaarde loop hand-aan-hand met ekonomiese en individuele vryheid. Niemand kan ‘n besigheid effektief bestuur en groei wanneer sy vryheid om elke hoek beperk is nie. Die gastehuiseienaar moet allerhande daaglikse besluite maak en werknemers en diensverskaffers betaal. Wanneer die regering ekonomiese aktiwiteit inperk of opskort moet ons nie verbaas wees dat besighede sukkel en mense hul werk verloor nie.

Die ruimte vir foute  vir gastehuise in Suid-Afrika se platteland en klein dorpies is baie klein. Terwyl groter hotelle vir ‘n langer tydperk die gevolge van die inperking kan absorbeer, is gastehuise se  vermoëns om sulke skokke te absorbeer baie kleiner.

Voor COVID-19 was dit alreeds moeilik om ‘n besigheid in Suid-Afrika te bestuur – al hoe meer wette en hoër belasting ly tot ‘n onvriendelike besigheidsomgewing. Die regering het al vir jare die verkeerde beleidspad –van groter staatsbeheer oor die ekonomie en mense se lewens geloop.

COVID-19 het die strukturele probleme in Suid-Afrika duidelik gemaak. Soos mense hul bes doen om aan te pas en weer besigheid te doen, gaan die wêreld verder begin oopmaak. Suid-Afrika kan een van die eerste lande wees wat weer gaste met warmte verwelkom – as die regering weer werkgewers in die toerismesektor toelaat om besigheid te doen.

In hul stryd teen COVID-19 het die regering nie ag daarop geslaan oor hoe belangrik en hoe fyn ingestel die ekonomie is. Die inperking was eenvoudig ‘n stomp instrument en as ons die syfers van die Minister moet glo, lê daar nog baie slegte nuus voor. Dit is hoog tyd dat die regering terugtree en beheer terugplaas in die hande van besighede in die toerisme-sektor. Net ekonomiese vryheid kan Suid-Afrika enigsins ‘n kans gee in die post-COVID-19 wêreld.

Die volgende skrywe en mening is deur ‘n onafhanklike persoon opgestel en verteenwoordig nie noodwendig die mening van Sakeliga, sy bestuur, direksie personneel of lede nie. Sakeliga gee geen waarborge oor die volledigheid, betroubaarheid en akkuraatheid van hierdie inligting nie.
Archives