Die eufemistiese terminologie van onteiening sonder vergoeding

lock

Stel jou voor jy doen op ‘n dag people-watching in ‘n winkel. Iemand stap in, vat ‘n produk van die rak af, en stap uit sonder om daarvoor te betaal. Die eienaar storm uit, skreeu op die dief, en bel die polisie. Duidelik het iemand nou net iets gesteel! Die volgende dag vind jy jouself in dieselfde winkel. Iemand stap in, vat ‘n produk van die rak af, loop na die betaalpunt en betaal niks. Nadat hy niks oorhandig het nie, stap hy uit.

Die eienaar gaan aan met sy dag en niemand bel die polisie nie. Niks is gesteel nie, word jy vertel, want die persoon het mos betaal, al was dit R0,00.

Huh – hoe nou?

Wat is die verskil tussen die twee situasies? In die eerste situasie het die dief geloop sonder om te betaal. In die tweede situasie het die koper tegnies nul betaal. Lees mooi: Die koper het betaal, maar die bedrag wat hy betaal het was R0.00.

Indien jy dink hierdie spul maak geen sin nie, dat dit ‘n tipe cloud cuckooland alternatiewe realiteit uitbeeld, sal jy korrek wees. Maar dit is nie ‘n grap nie. Dit is hoe die Suid-Afrikaanse regering die konsep van onteiening sonder vergoeding benader in sy wysigingswetsontwerp op artikel 25 van die Grondwet.

Volgens die Wetsontwerp op die Agtiende Grondwetwysiging mag die regering eiendom onteien vir “nul” vergoeding. Dit is legalese vir: Die regering mag eiendom konfiskeer sonder om daarvoor te betaal. Teen die tyd verstaan baie Suid-Afrikaners wat onteiening sonder vergoeding is, waarom die regering sê hy hom daarmee ophou, en hoekom dit rampspoedig gaan wees. Maar die terminologie van “sonder vergoeding” en vir “nul vergoeding” is ook regtens relevant, want dit is bedrieglik en eufemisties.

In middel Februarie 2021 het die Parlement se Kantoor vir Grondwetlike en Regsdienste, in ‘n voorlegging vir die parlementêre ad hoc-komitee wat verantwoordelik is vir die Wetsontwerp op die Agtiende Grondwetwysiging, dit duidelik gestel.

Vergoeding vir onteiening is internasionale beste praktyk: Dit is ‘n wêreldwye verskyning dat vergoeding betaal word wanneer ‘n regering privaat eiendom onteien. Suid-Afrika kan nie teen hierdie universale neiging gaan nie. Daar moet ‘n betaling van vergoeding wees, aldus die parlementêre regsdienste.

Maar aangesien die Parlement besluit het dat die regering die mag moet hê om te onteien sonder vergoeding, gaan die regsdienste voort, kan die bedrag van vergoeding – wat moet betaal word – nul wees. Met ander woorde, die regering moet, soos internasionaal verwag word, betaal wanneer hy eiendom vat, maar die hoeveelheid wat die regering “betaal” kan R0.00 wees. Dus, argumenteer die regsdienste, moet die Parlement nie die frase “sonder vergoeding” gebruik nie, maar “nul vergoeding”.

“Die wetsontwerp kan dus nie die konsep van vergoeding (deur om ‘sonder vergoeding’ te gebruik) uitsluit nie, maar kan wel die hoeveelheid vergoeding nul rand maak, wat in die praktyk dieselfde effek het, maar is regs-tegnies korrek,” aldus die regsdienste.

Waarom is dié storie relevant, mag jy vra? Hulle wil eiendom vat sonder om daarvoor te betaal, en dit is al wat saak maak.

Maar terminologie is belangrik, en veral in die openbare diskoers moet eufemismes beslis vermy word. Tydens die Holocaust het Duitse staatsbeamptes en hoë-offisiere na die uitwissing van die Jode verwys as “ontruiming” of “spesiale behandeling” om die werklike aard van wat hulle mee besig was weg te steek. Ander vergelykbare voorbeelde was teenwoordig tydens die Rwandese volksmoord.

Maar dit is nie beperk tot sulke gruwelike gebeurtenisse nie.

Wanneer iemand aangerand word, word dikwels gesê dat hulle ‘n “les geleer” word. Ook in die ontduiking van belasting word inkomste as “donasies” voorgehou. Hierdie is alles instansies waar tegniese vorm gebruik word om die werklike inhoud van ‘n aksie of transaksie weg te steek.  

Die verwysing na “nul vergoeding” in die plek van “sonder vergoeding” het reeds die regering se misleidende narratief in die internasionale diskoers bevoordeel. Onlangs het ‘n Kanadese kollega, wat in alle ander opsigte met my sal saamstem oor die belangrikheid van eiendomsregte en die gevare van onbeperkte regeringsmagte, die Wetsontwerp op die Agtiende Grondwetwysiging as “benign” beskryf, byvoorbeeld.

Maar die wysigingswetsontwerp is alles behalwe goedaardig.

Waar Suid-Afrikaners tot op hede ‘n ongekwalifiseerde reg tot vergoeding gehad het – ‘n internasionaal-erkende basiese mensereg – gaan ons voortaan ‘n erg ingekorte ‘reg’ tot vergoeding hê wat heeltemal afhang van hoe regeringsamptenare hul diskresie uitoefen. Die regering word in staat gestel om op die ingewing van die oomblik te besluit of hy vergoeding vir eiendom wil betaal of dan nie.

Gewone landsburgers en buitelandse investeerders, wat geen misdaad of delik gepleeg het nie, sal deur die regering finansieel heeltemal uitgewis kan word. Slegs diegene met die hulpbronne om so ‘n saak hof toe te neem en vir  jare te litigeer sal ‘n kans staan om iets te kry vir hul eiendom, en slegs indien die regering se besluit arbitrêr of willekeurig was.

Dit is dié realiteit wat die Parlement probeer wegsteek met sy “nul vergoeding” eufemisme. Ons sal altyd betaal, moet nie bekommer nie! So sê die regering. Dat die wanvoorstelling wel werk – dat regsgeleerdes en internasionale waarnemers daarvoor val – is self vir my verwarrend. Dit bly nietemin belangrik dat ons herken wat die regering werklik mee besig is: Grootskaalse diefstal geklee in die skyn van legaliteit.

Die artikel het aanvanklik op Maroela Media verskyn.

Martin van Staden is ‘n Regsgenoot by die onafhanklike sakegemeenskap Sakeliga. Hy studeer tans aan ‘n doktorsgraad in regte aan die Universiteit van Pretoria. Vir meer inligting besoek www.martinvanstaden.com.

Archives