Departement van Gesondheid se voorgestelde regulasies moet in geheel laat vaar word

pexels-pixabay-40568

Sakeliga het onlangs kommentaar gelewer op voorgestelde wysigings deur die Departement van Gesondheid aan die regulasies rakende die monitering en beheer van aanmeldbare mediese toestande.

U kan ons volledige voorlegging (drie bladsye) hier lees: https://sakeliga.co.za/wp-content/uploads/2022/04/2022-04-21-Sakeliga-submission-on-National-Health-Act-Notifiable-Medical-Conditions-Regulations-1.pdf.

Ons beskou die voorgestelde regulasies as skadelik vir openbare gesondheid, regtens ongegrond, en ekonomies en maatskaplik nadelig. Die regulasies is ’n poging om by die publiek die indruk te skep dat die nasionale ramptoestand oor Covid-19 opgehef word, terwyl dit in werklikheid onder ‘n ander naam voortgesit word. Ons is van mening dat die voorgestelde regulasies so erg gebrekkig is dat dit nie reggestel kan word nie en in geheel laat vaar moet word.

Waarom is Sakeliga van mening dat hierdie regulasies teengestaan moet word? Omdat dit ’n poging is om ’n permanente en drakoniese gesondheidsbestuursburokrasie in te stel waarmee beoog word om nog meer rompslomp en nakomingslaste op maatskappye en privaat instellings te plaas, om sakeondernemings as instrumente aan te wend om staatsbeleid uit te voer en ‘n gemoniteerde samelewing te vestig, en om vereistes vir reguleringsnakoming te gebruik om inbreuk te maak op korporatiewe onafhanklikheid en risiko’s te skep vir bestuursoutonomie en -aanpasbaarheid.

Knellende en onnodige nuwe gesondheidsregulasies maak dit nog moeiliker om sake te doen, verhoog administratiewe koste en laste, maak toestande onaantreklik vir personeel en kliënte, en skep ’n magdom lastige reëls en regulasies wat ruimte bied vir korrupsie, wanbestuur, tendermisbruik en dies meer. Sulke beleide plaas meer mag en invloed in die hande van staatsfunksionarisse wat weinig begrip het vir wat vereis word om waarde te skep en goedere en dienste van gehalte teen bekostigbare pryse te lewer.

Ons is geadviseer dat die Minister se benadering met die opstel van die konsepregulasies die oppergesag van die reg en die skeiding van magte tussen die uitvoerende gesag en die wetgewende gesag ondermyn en gevolglik ongrondwetlik is.

Sakeliga het ook die kommentaar van verskeie en uiteenlopende openbare gesondheids- en mediese navorsers en wetenskaplikes oorweeg en hulle menings aangeheg by ons kommentaar. Hoewel hierdie ontledings onafhanklik gedoen is en hoewel daar verskille tussen hulle is, is hierdie ontledings na ons mening omvattend en beduidend aangesien dit die voorgestelde regulasies in geheel verwerp en dit as te gebrekkig beskou om reggestel te word. Hulle voer aan dat Suid-Afrika se bestaande wette en regulasies reeds toereikend is om op pandemies te reageer, en dat dit ruimte laat slegs vir aanbevelings en nie instruksies nie.

Ons standpunt is soos volg:

  1. Covid-19 is nie geskik om as ‘n aanmeldbare mediese toestand geklassifiseer te word nie.
  2. Dit is nie nodig om die bestaande regulasies te wysig ten einde Covid-19 te hanteer nie, en die voorgestelde regulasies, wat vir daardie doel opgestel is, het dus nie ’n redelike grondslag nie.
  3. Om die drakoniese magte wat gebruik word om Covid-19 te hanteer, op ’n permanente grondslag na ’n lang lys ander toestande uit te brei, sal Suid-Afrika omskep in ’n gemoniteerde samelewing waar vryheid, privaatheid en handeldryf oormatig gedwarsboom en in die wiele gery word.
  4. Die magte wat die Minister hom in die regulasies toe-eien (ten opsigte van enige huidige of toekomstige aanmeldbare mediese toestande) is ultra vires, drakonies en ongrondwetlik.
  5. Die voorgestelde regulasies moet onttrek word.



Ons dring daarop aan dat die voorgestelde regulasies nie uitgevaardig word nie, en ons het ons regspan opdrag gegee om vir litigasie voor te berei (of om andere in litigasie by te staan waar gepas) indien ’n weergawe van die voorgestelde regulasies uitgevaardig sou word.

***

Piet le Roux – Uitvoerende Hoof
Russell Lamberti – Uitvoerende Direkteur: Navorsing en Strategie

Archives