Brief aan lede oor verpligte inentings

Sakeliga Team Members_Piet le Roux

Gewaardeerde Sakeliga-lede 

President Cyril Ramaphosa het Sondagaand weer ’n landwye televisieverklaring oor Covid-19-verwikkelinge gedoen. Hieronder deel ek ’n brief oor die saak deur my en my kollega, Russell Lamberti. 

Die beskouing wat ons skets, veral met betrekking tot staatsverpligte inenting, is iets waarmee sommige van ons waarskynlik sal saamstem, ander nie en ander iets tussen-in. Wat ook al die geval, ons hoop dat lede dit as oorwoë en akkommoderend sal ervaar, soos ons dit ook opreg bedoel. Soos tevore, toe ons in September hieroor aan lede geskryf het (sien hier), verwelkom ons lede se kommentaar en oorweeg ons dit sorgvuldig. 

Dit is met erkenning aan legitieme meningsverskille en verskillende risikobestuurstrategieë onder ons lede dat my kollega en ek tot ons gevolgtrekking kom: sakelui moet maniere vind om opregte en legitieme verskille in mening en strategie te akkommodeer. Ons moet samewerking opsoek en respek handhaaf vir verskille onder ons, eerder as om eenvormige oplossings, soos staatsgedwonge inenting, op mekaar as sakelui, mekaar se maatskappye en mekaar se persone af te dwing. 

Piet le Roux 
Uitvoerende hoof 
Sakeliga 

29 November 2021 

Gewaardeerde Sakeliga-lede 

President Cyril Ramaphosa het Sondagaand weer ’n landswye televisieverklaring oor Covid-19-verwikkelinge gedoen in die lig van nog ’n pas geïdentifiseerde SARS-Cov-2-variant. Anders as verskeie vorige aankondigings wat weinig nuwe inligting bevat het of net geringe aanpassings aaninperkingsregulasies gemaak het, was hierdie verklaring in verskeie opsigte beduidend. 

Eerstens het die president duidelike en welkome begrip getoon om die ekonomiese en sosiale lewe grotendeels ongehinderd te laat voortgaan. Twee aspekte hiervan verdien vermelding.  

  1. Ramaphosa het geen aanpassing aan inperkingsvlak 1 gemaak nie, wat ekonomiese aktiwiteit in groot mate onaangeraak laat en toon dat sy kantoor nie paniekerig raak oor ’n nuwe SARS-Cov-2-variant waaroor daar nog baie min bekend is nie. 
  2. Verder het die president nadruklik verklaar dat buitelandse regerings se verbod op reise na en van Suid-Afrika geensins wetenskaplik gegrond is nie en ’n onvanpaste oorreaksie is. 

Hierdie aankondiging is ’n belangrike diplomatieke stap om ’n einde te maak aan die stigma en isolasie van reis en toerisme na en van Suid-Afrika, en dit stel ook ’n baie belangrike breër standpunt: reisbeperkings, hetsy plaaslik of internasionaal, dra nie tot ’n oplossing by nie en is wetenskaplik ongegrond. 

Tweedens, in noue verband daarmee, het die president gepraat van “leer om met die virus saam te lewe”. Dit is ’n baie welkome klemverskuiwing in aanslag en narratief, wat daarop dui dat die regering toenemend besef dat drastiese sogenaamde veiligheidsmaatreëls nie die virus kan uitwis nie en nie vir ewig kan geld nie.  

Dit is waarom dit beduidend is dat, derdens, die president te kenne gegee het dat sy administrasie begin om die beperkings te hersien met die oog op die opheffing van die ramptoestand. Natuurlik verwelkom Sakeliga dit, maar met ’n sterk voorbehoud: die regering moet nie die ramptoestand ophef bloot om te probeer om sulke magte as deel van gewone, permanente staatsmagte te verskans nie. Sakeliga sal dit fyn dophou. Die land mag nie permanent oorgelaat word aan die genade van ‘n regering wat perkeloos kan optree nie. 

Gedwonge inenting 

Ongelukkig word die president se bemoedigende stellings versuur deur sy aandrang daarop dat almal ingeënt moet word, dat sy administrasie verpligte inenting vir sekere aktiwiteite oorweeg, en dat hy gaan begin met “breë oorlegpleging” oor ‘n program van verpligte inenting. Sakeliga is van mening dat sodanige verpligting buitensporig en onregverdigbaar sal wees. 

Die stelling oor verpligte inenting is problematies veral gesien in die lig van die president se eie beloftes dwarsdeur 2021 dat sy administrasie nie verpligte inenting sal toepas nie. Die Ramaphosa-administrasie word in hierdie nuwe rigting gesteun deur die sakegroep Business for South Africa(B4SA). B4SA se voorsitter, Martin Kingston, het verklaar dat B4SA ten gunste is daarvan omoningeënte mense toegang te belet tot openbare binnenshuise areas soos openbare vervoer,restaurante en werkplekke.  

Sakeliga is beslis gekant teen hierdie uitsluitende en eenvormige oplossing. Ons beskou ’n regeringsbeleid van gedwonge SARS-Cov-2-inenting en ’n algemene korporatiewe kultuur van beperkings op oningeënte mense as onwys en ons reken dit sal waarskynlik aansienlike ekonomiese en sosiale benadeling veroorsaak. 

Soos ons onlangs aangevoer het, is gedwonge inenting buitensporig ten opsigte van: 

  1. die bedreiging wat SARS-Cov-2 inhou (’n virus wat ’n groter risiko vir sekere groepe inhou maar wat in die geheel gesien meer as 99% van die mense wat dit kry, spaar);
  2. die reeds groot mate van natuurlik verworwe immuniteit na aanleiding van vorige infeksies; en
  3. die steeds hoë mate van meningsverskil en onsekerheid oor aspekte van die eienskappe van die siekte, behandeling, tempo en wyse van oordrag, nuutheid van variante, doeltreffendheid van entstowwe, en dies meer. 

SARS-CoV-2 spaar gelukkig die oorgrote meerderheid mense wat die virus opdoen. Hierdie groep se natuurlike immuniteit beskerm hulle teen ernstige siekte en dood. Daar word algemeen aanvaar dat hierdie groep, nadat hulle herstel het, bykomende sterk natuurlike immuniteit verwerf het wat netso goed of beter as entstofimmuniteit is. Kenners van gesondheidsorg, soos Discovery se hoofaktuaris, Emile Stipp, reken dat nagenoeg driekwart van alle mense in Suid-Afrika teen Augustus 2021 sulke immuniteit verwerf het. 

Aangesien meer as 80% van mense waarskynlik nou reeds natuurlike teenliggaampies het, enaangesien meer as 40% van volwassenes reeds die een of ander entstof ontvang het, is dit onsinnig vir die presidensie en groepe soos B4SA om almal in die land te wil dwing om ingeënt te word en,met blamering van diegene wat nie ingeënt is nie, op toenemende inenting aan te dring om mutasie te voorkom. Bowendien, soos onlangs weer uitgewys deur professor Burtram Fielding, ’nkoronavirusspesialis aan die Universiteit van Wes-Kaapland, is dit wetenskaplik foutief om te beweer dat mutasies deur oningeënte mense gedryf word, omdat entstowwe nie infeksie voorkom nie. 

Heel tereg het die president self ander lande van onwetenskaplike optrede beskuldig. Om die immuniteit wat na herstel van die siekte verwerf is, nie as ten minste gelyk aan entstofimmuniteit te beskou nie en te beweer dat mutasies deur oningeënte mense gedryf word, word in die meeste ander lande tereg as wetenskaplik omstrede of selfs as onwetenskaplik beskou. 

’n Beroep op die wetenskap hoef ook nie altyd slegte nuus te veronderstel nie. In die gees van benutting van die wetenskap moet die president en groepe soos B4SA ook oor die goeie nuus begin praat. Die oorweldigende meerderheid mense is weerstandig teen Covid-19 – hetsy deur hulleimmuunstelsels, natuurlik verworwe teenliggaampies of inenting. Daar is waarskynlik steeds ’n klein kwesbare groepie met swak immuunstelsels wat nog nie geïnfekteer of ingeënt is nie. Die president, saam met groepe soos B4SA, moet hulle daarop toespits om die departement van gesondheid en privaat gesondheidsorgverskaffers toe te laat om entstowwe toe te dien aan diegene in die kwesbare minderheid wat dit wil hê, eerder as om ’n onwyse en gedoemde program van gedwonge inenting vir die hele bevolking aan te pak.  

Politieke, sosiale en ekonomiese wanorde 

Gedwonge inenting is ook ’n ernstige bedreiging vir politieke orde en sosiale samehorigheid. Een van die ernstigste risiko’s van gedwonge inenting en inentingspaspoorte is dat dit mense gewoond maak aan staatsgedrewe beheer en monitering van beweging en die koöptering van die privaat sektor om hierdie skemas te help uitvoer.  

Dit sal ook tot ongekende staatskorrupsie lei. 

Dit is heeltemal moontlik, dalk selfs waarskynlik, dat die staat kan probeer om ’n skema van gedwonge inenting/opvolginenting in te stel, waar die staat dit nie regstreeks afdwing nie, maar deur verkryging, oorreding en koöptering groot maatskappye kry om so ’n puntestelsel in te voer en te bedryf, met verreikende, nadelige gevolge. 

Deur te sê oningeënte mense is die probleem, impliseer B4SA dat wydverspreide natuurlik verworwe teenliggaampies ontoereikend is. Maar as dit so is, moet entstofbeskerming ook ontoereikend wees, wat beteken dat B4SA nie net gedwonge inenting bepleit nie, maar ook gedwonge opvolginenting, dalk onbepaald. B4SA bepleit, by implikasie, in der waarheid ’n permanent gemedikaliseerde en gemoniteerde samelewing. 

Hierdie is ’n nuwe, gevaarlike norm wat dreig om in die samelewing vorm aan te neem, en een wat die weg baan vir ongekende sentralisering en konsentrasie van staatsmag en korporatiewe mag, wat vroeër of later misbruik sal word. Sakeliga sal dit teenstaan. 

Nog ’n gevolg van gedwonge inenting van die hele samelewing deur verskeie dwangmaatreëls is dat dit verskriklike sosiale verdeeldheid en spanning kan veroorsaak. Hoewel ’n aansienlike deel van die Suid-Afrikaanse bevolking vrywillig ingeënt is, is ’n groot meerderheid van die bevolking – insluitende baie van diegene wat vrywillig ingeënt is – sterk daarteen gekant om mense te dwing om ’n Covid-19-inenting te kry. Om hierdie mense te ontneem van die dienste en toegang waarop hulle in hulle daaglikse lewe staat maak in die hoop dat hulle tot inenting sal toegee, of selfs dat ingeëntemense sal voldoen aan deurlopende monitering en verslagdoening, skep die moontlikheid van bitterheid, wantroue, skeuring en onrus in die samelewing, wat groot skade kan veroorsaak wat nie maklik ongedaan gemaak sal kan word nie. Ekonomieë is geïntegreerde verskynsels, en benadelingin een deel strek ook na ‘n ander: die uitsluiting van sommige mense uit die ekonomie is nie net nadelig vir hulle nie, maar ook vir diegene wat nou nie toegelaat word om sake te doen met diegene wat uitgesluit is nie. 

’n Besonder kwellende bedreiging is die risiko van wydverspreide geweldpleging, onrus en onluste indien miljoene mense skielik verbied sou word om te pendel, te werk en by restaurante en ander instellings te eet en te drink. Dan is daar ook die geweldige skok vir die verdienste van sakeondernemings wat afhanklik is van besteding aan hierdie dienste, en die gevolglike werkloosheid. 

Die potensiële en ongewaarborgde voordele van gedwonge inenting weeg glad nie op teen dieomvattende nadele daarvan nie. 

Sakeliga is daartoe verbind om ’n florerende kommersiële en sosiale orde te help bou. ’n Stelsel van beperkings op oningeënte mense dreig om hierdie doelwit te ondermyn deur sosiale, politieke en ekonomiese chaos te veroorsaak. Ons steun positiewe, eerlike, vrywillige inentingsveldtogte – wat erkenning van die voordele van natuurlike immuunreaksies en verworwe natuurlike immuniteit insluit. Dit sal waarskynlik lei tot aansienlike welwillendheid onder oningeënte mense en diegene wat nog besluit, wat die ruimte vir konflik sal verminder en ordelikheid en samewerking sal bevorder. 

Permanente liggaamsmonitering 

Erkenning van die belangrikheid van die immuunstelsel en verworwe natuurlike teenliggaampies is een manier om gedwonge inenting teen te staan. Sakeliga hou egter by sy vermaning teen “permanente liggaamsmonitering”. Selfs al word aanvaar dat mense met natuurlik verworwe teenliggaampies dieselfde beskerming het as diegene wat ingeënt is, is dit steeds problematies om die oorblywende ongeïnfekteerde en oningeënte mense van die daaglikse lewe uit te sluit om dieselfde redes soos hierbo vermeld. Eenvoudig gestel – ’n stelsel waarvolgens gesonde mense gedurig moet bewys hulle is “gesertifiseer as gesond genoeg” om rond te beweeg en hulle gang te gaan, is ’n knellende stelsel wat in verskeie opsigte ‘n tirannie en ondraaglike regimentering van natuurlike lewenswyses kan en sal uitmaak. 

Sakeliga bepleit eerder steeds verstandige, wedersyds samewerkende, gedesentraliseerde risikobestuur met betrekking tot Covid-19 en ander komplekse risiko’s en probleme waarvoor die samelewing te staan kom. Komplekse probleme vereis nie gesentraliseerde, geformaliseerde, homogene oplossings nie, maar eerder diverse, gedesentraliseerde en aanpasbare oplossings. 

Beëindig die inperking 

Laastens herinner ons ons lede daaraan dat inperkings beëindig kan en moet word ongeaginentingsgetalle en sonder gedwonge inenting. Inperkings werk nie en bring katastrofiese sosiale benadeling mee. Baie dele van die wêreld het inperkings beëindig nog voordat entstowwe beskikbaar was, sonder merkbaar swakker uitkomste. Om die bedreiging van gedwonge inenting ofimmuniteitspaspoorte voor te hou as die manier om skadelike beperkings te beëindig, stel die publiek voor ’n valse en onbillike keuse. Die geskiedenis toon dat dit nie raadsaam is om samelewings voor sulke keuses te stel nie. Inperkingsmaatreëls was (en bly) ’n ongunstige beleidskeuse – nie ’n gevolg van Covid-19 nie.  

Die regering se oorspronklike onderneming was drie weke om die kurwe grafiek platter te maak en hospitale gereed te kry. Die regering het egter nie woord gehou nie en het beperkings verleng – dit geld nou al langer as 600 dae. Die regering se rol moet wees om kapasiteit in staatshospitale te vergroot en alle beperkings op privaat hospitaalkapasiteit te verwyder, en nie om steeds te probeer om baie komplekse dinge te bestuur waaroor hy nie werklik beheer het nie. 

Die president het gesê ons moet leer om met die virus saam te lewe. Inderdaad, ons moet kies om ons eie risiko-aangepaste lewens te lei eerder as om onder regeringsaangepaste lewens gebuk te gaan. Dit is tyd om na goeie wetenskap te luister, reisbeperkings op te hef, mense toe te laat om self hulle diverse risiko’s te bestuur, alle inperkings en maskerverpligting te beëindig, die ramptoestand op te hef, skadelike idees oor immuniteitmonitering te laat vaar, inenting vrywillig te hou en die verskaffing van alle veilige behandelings en van gesondheidsorgdienste te liberaliseer.  

Russell Lamberti, Hoof Ekonoom, Sakeliga
Piet le Roux, Uitvoerende Hoof,
Sakeliga 

Archives