54-jarige Newcastle Sakekamer affilieer met Sakeliga vir gunstige sakeomgewing in Newcastle

pexels-fauxels-3183197

Die 54-jarige Newcastle Sakekamer het hierdie naweek amptelik sy affiliasie met die snelgroeiende sakeorganisasie, Sakeliga, bekendgestel. Terwyl verskeie bestaande sakekamers reeds by Sakeliga geaffilieer het of tans besig is, is die Newcastle Sakekamer een van die mees gevestigde sakekamers in Suid-Afrika. Die kamer het oor meer as ’n halfeeu bekendheid verwerf met ‘n ryke geskiedenis van aktiewe verteenwoordiging van sakelui in die Newcastle-omgewing en KwaZulu-Natal-provinsie. Die sakekamer is in die verlede bekroon met toekennings deur die destydse Afrikaanse Handelsinstituut vir uitnemende prestasie as ‘n sakekamer, en selfs die toekenning vir beste sakekamer in die land verower.

Die loodsing is deur ongeveer 70 sakekamer-lede en gaste uit ander organisasies, gemeenskapslede en verteenwoordigers bygewoon. Volgens Koos Pieterse, voorsitter van die Newcastle Sakekamer, is sakelui op Newcastle besorg oor die tendens van agteruitgang van munisipale dienslewering, infrastruktuur en talle ander staatstrukture. “Die Sakekamer het besluit om vroegtydig te begin optree voordat Newcastle homself in die posisie bevind waar soveel ander dorpe hulself bevind as gevolg van wanadministrasie,” het Pieterse gesê.  

Om hierdie uitdaging die hoof te bied werk die Newcastle Sakekamer aan ‘n strategiese plan waarmee hy sy lede wil mobiliseer, ingelig hou en met denkleierskap ondersteun om agteruitgang teen te staanen die sakeomgewing gunstig te maak. Die bestuur van die sakekamer het besluit om met Sakeliga te affilieer aangesien hierdie organsiasie se kernbesigheid die bevordering van ‘n gunstige sakeomgewing is.

Pieterse, sê sy lede en bestuur sien uit na die verhouding met Sakeliga: “Ons is trots daarop om ons affiliasie by Sakeliga aan te kondig en assosieer met die Sakeliga se waardes en standpunte. Dit is belangrik dat Newcastle se mense self die probleme sal moet oplos en dit kan slegs geskied as almal van die dorp en omgewing saamstaan en ‘n daadwerkilke poging aanwennd. Die tyd is ryp dat plaaslike sakekamers weer onderling koördineer. Ons moedig ander sakekamers aan om ook in te skakel, sodat ons saam kan bou aan die grootste sakegemeenskap wat die land nóg gesien het. Ons moet saamwerk vir ‘n gunstige sake-omgewing op plaaslike én nasionale vlak, nie net in sakelui se belang nie, maar ook in die openbare belang.” 

Volgens Piet le Roux, Sakeliga se uitvoerende hoof, is Sakeliga se strategie gerig op die skep van gunstige sakeomgewings. “Sakeliga verwelkom die Newcastle Sakekamer in die Sakeliga affiliasie-familie. Alles wat ons doen moet bydra tot gunstige sakeomgewings. Sakeliga self fokus op oorhoofse en nasionale sakekwessies, maar dit is nie genoeg nie. Sakeomgewings moet ook op plaaslike vlak weer gunstig gemaak word. Ons strategie daarvoor is om hande te vat met en ondersteuning te bied aan sakelui wat sakekamers het of wil stig – om dit vir hulle makliker te maak om dit op te rig, te bestuur, en suksesvolle projekte te dryf. Ons werk dus aan ‘n skaalbare bloudruk vir selfstandige sakegemeenskappe.”

Dr. Ernst Vorster, hoof van affiliasies en kommunikasie vir Sakeliga, sê die Newcastle Sakekamer sal as  deel van Sakeliga se Affiliasieprogram nou in ‘n proses van konsultasie met Sakeliga tree om affiliasievoordele te benut en te ontwikkel. Volgens Vorster “vorm hierdie samewerking deel van Sakeliga se strategie om ‘n landswye netwerk van selfstandige sakegemeenskappe in onafhanklike sakekamers te skep en ondersteun, ten einde plaaslike sakeomgewings weer gunstig te maak en sistemiese verandering op skaal te bewerkstellig”.

Besigheidseienaars in Newcastle kan die Newcastle Sakekamer kontak op [email protected] vir meer inligting en aansluiting.

Sakekamers en ander sake-organisasies wat ook by Sakeliga betrokke wil raak kan ‘n e-pos stuur na [email protected]

Archives