20c van elke rand wat die regering bestee, word geleen – Sakeliga Kwartaalverslag

pexels-cottonbro-3943716

“Minister Tito Mboweni moet besteding verminder en nie belasting verhoog nie. Dit is die vereiste vir ’n regering wat tans 20c leen vir elke rand wat hy bestee, soos Sakeliga se jongste kwartaalverslag toon.”

So sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, in afwagting van die 2020-begrotingsrede op 26 Februarie en gegrond op Sakeliga se jongste kwartaallikse Ekonomiese Oorsig vir Besluitnemers in die Sakewêreld. Die verslag, wat in samewerking met ETM Macro Advisors opgestel is, toon ’n opvallende verswakking in die aanwysers van stres op die begroting sedert die middel van 2018.

Die verslag van vyf bladsye bied ’n padkaart vir sakelui en ekonome, met ’n oorsig van die vernaamste ekonomiese barometers. Dit dui tans op moeilike toestande vir sake en werkverskaffing. Die regering se fiskale stres word as die vernaamste risiko vir sake beskou.

Presidensiële Beleidstelkaart
Die verslag bied ook ’n nuwe aanwyser wat die Presidensiële Beleidstelkaart vir Suid-Afrika genoem word, waardeur Sakeliga die werklike prestasie van opeenvolgende regeringsadministrasies toon volgens objektiewe uitkomste pleks van uitlatings en ondernemings oor hervorming.

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, verduidelik: “Beloofde ekonomiese beleidshervorming onder die Ramaphosa-administrasie vorder baie stadig. Die administrasie kry 30 uit 100 vir die impak van hervormingspogings op werklike ekonomiese uitkomste soos arbeidsmarktoestande, investering, sterkte van die rand, energieproduksie, die aandelemark en effekteopbrengste.”

Ander insigte in die verslag sluit in ses aanbevelings vir korporatiewe strategie asook ontledings en grafieke van plaaslike en internasionale makro-ekonomiese toestande.

Lees die volledige verslag hier

Archives