2021-mediumtermynbegroting bevestig die meriete van strategie vir staatsbestandheid

Enoch Gondongwana, Minister van Finansies, se mediumtermynbegroting bevestig dat die regering die fiskale krisis wat hy sedert 2009 geskep het, nie ernstig genoeg opneem nie. Sakeliga beskou derhalwe Donderdag se mediumtermynbegroting van die Nasionale Tesourie as verdere ‘n bevestiging van die noodsaak vir besighede en gemeenskappe om hulself so veel as moontlik staatsbestand te maak. Die regering het hom daartoe verbind om in die voorsienbare toekoms elke jaar 350 tot 400 miljard rand – sowat 6% van die BBP – se nuwe skuld aan te gaan bo-op  die bestaande enorme opgehoopte skuld. Dit is sowat 2000 rand se nuwe skuld vir elke Suid-Afrikaanse huishouding elke maand. 

Staatsbestandheid behels minder blootstelling vir besighede aan staatskontrakte, toepaslike valutaverskansingstrategieë, om so belastingdoeltreffend moontlik te funksioneer, om blootstelling aan buitelandse markte- en inkomstestrome te verbeter, en handelsnetwerke te vestig wat ook daarop gemik is om risiko op soortgelyke wyses te verminder. 

Suid-Afrika se enorme nasionale skuld moet beskou word as ‘n morele mislukking aan die kant van die regering en ‘n vername strukturele risiko vir maatskaplike stabiliteit en die kommersiële orde. Dit laat die bankstelsel meer vatbaar vir groot plaaslike of buitelandse ekonomiese gebeure en skokke. Verder beweeg dit die regering nader aan ‘n scenario waarin hy  hoogs afhanklike netwerke van patronaatskap en welsyn-trekkers sal moet afsny of die geld sal moet druk en daardeur vernietigende inflasie sal veroorsaak. 

Sakeliga neem wel kennis dat die Minister van Finansies ‘n paar moontlike toekomstige hervormings ter tafel gelê het, veral ten opsigte van energieproduksie en Eskom. Dit sal eers in praktyk gesien moet word om geloofwaardigheid te kan geniet, en los buitendien in hul huidige vorm geensins die beleidsverwarring en fiskale gat wat die regering geskep het, op nie. 

Sakeliga beklemtoon die noodsaaklikheid van dringende staatsbegrotingsurplusse en die spoedige afbetaling van die nasionale skuld. Slegs vinnige en ferm optrede in hierdie verband kan ‘n uiteindelike fiskale ramp afwend. 

Intussen, terwyl die regering so ‘n onwyse koers bly inslaan, beklemtoon Sakeliga die belangrikheid van ‘n besigheidstrategie van staatsbestandheid, wat risiko van blootstelling aan die staat verminder en die bou van veerkragtige handelsnetwerke voorstaan. Dit is ‘n belangrike tyd om by Sakeliga aan te sluit en die bou van veerkragtige en onafhanklike sakegemeenskappe te ondersteun. 

Russell Lamberti 
Hoofekonoom 
Sakeliga 

Archives